DFSK Loadhopper wen Beste mikro-wa van die Jaar-toekenning

Die Chinese vervaardiger DSFK het die mikro-paneelwa-mark in die VK met die bekendstelling van sy Loadhopper aan die brand geskop. Hierdie unieke voertuig het die heel eerste Beste mikro-paneelwa van die Jaar-toekenning van die gesaghebbende webblad VansA2Z.com gewen.

Hierdie afdeling het nie verlede jaar bestaan nie, maar die Loadhopper se indrukwekkende eienskappe is in VansA2Z se Paneelwaens van die Jaar-toekennings vir 2012 bekroon danksy DSFK en hul invoerder van Swindon, DSFK UK, wat ’n ligtehandelsvoertuigreeks aan die einde van 2011 begin invoer het.

’n DSFK-reeks van vyf weergawes, wat die 1,3ℓ-paneelwa insluit, is in Maart vanjaar plaaslik deur die invoerder en verspreider Geely Suid-Afrika bekend gestel, en die reeks was van meet af aan baie gewild. Die reeks behels ook ’n enkel- en dubbelkajuit-minibakkie met ’n 1,0ℓ- of 1,3-ℓ-enjin, sowel as ’n minibussie wat ’n enjin van 1,3ℓ het.

“Ons 34 handelaars se vraag na die DSFK was so goed dat ons nog bestellings moes plaas,” het Henri Meistre, besturende direkteur van Geely Suid-Afrika, gesê. “’n Bykomende 150 eenhede sal elke maand vir die volgende vier maande in Suid-Afrika aankom.”

VansA2Z.com se kommentaar: “Mikro-paneelwaens en mini-bakkies is nie iets vir almal nie, maar hulle is danksy hul piepklein afmetings en baie knap draaisirkel uiters geskik vir stedelike gebruik. Die uitleg van die kajuit bo-op die enjin beteken die voertuig het nie ’n enjinkap wat in die pad is nie. Dié soort voertuie kan in gapings inwurm waarvan ander ligte handelsvoertuie net kan droom.”

Grootte kniehalter egter nie hul dravermoë nie. Loonvragte wat wissel van 590 kg tot 1 000 kg pas maklik in die mini-paneelwa se laaivloer van drie vierkante meter. Die voertuig het ook ’n skuifdeur wat laaiwerk vergemaklik.

Agtergrond-inligting oor DFSK:

DFSK is die voertuig-afdeling van die Chongqing Sokon-nywerheidsgroep. Dié groep is verantwoordelik vir die vervaardiging van ’n verskeidenheid voertuigverwante produkte, wat motorenjins, motorfietse en veringkomponente insluit. DFSK kon danksy ’n strategiese verwantskap en samewerkingsooreenkoms met China se naasgrootste voertuigvervaardiger, die Dongfeng-maatskappy (DFM), by DFM se gesamentlike ondernemings met bekende Japannese, Koreaanse en Franse vervaardigers inskakel. DFSK vervaardig ook ’n reeks swaar handelsvoertuie.

Einde